Serfontein wys ‘Momentum’ in Sandton

Henk Serfontein, Woman Walking Slowly Downstairs and Waving (90 x 90 cm), houtskool en gemengde media op argivale Hannemühle-papier.

Tot vroeër vanjaar, so onlangs as die Woordfees in Stellenbosch in Maart, was die Kaapse skilder Henk Serfontein se tekenwerk nie so algemeen bekend nie. Dit was sy Winterslaap, ʼn reeks portrette van die digter Wilma Stockenström in houtskool en gemengde media, waarmee hy sy tekenvaardigheid so meesterlik getoon het.

Houtskool is egter geen nuwe medium vir Serfontein nie. Hoewel hy vir sy olieverfskilderye bekend is, het hy in ʼn stadium intensief geteken. Dit was veral tydens sy studiejare in Pretoria met Diane Victor en Carl Jeppe as dosente in tekenkuns. “Die konseptuele prikkels is daar geplant en ek het my tegniese vaardigheid in veral houtskool by hulle verfyn,” het hy onlangs in ʼn onderhoud gesê.

Momentum, Serfontein se jongste uitstalling in die Dawid Ras-galery in Johannesburg, bestaan uit ʼn versameling groot tekeninge (90 x 90 cm) waarin hy, anders as die statiese beelde van die slapende Stockenström, met aspekte van beweging werk. Nietemin is die poëtiese aspek in dié werke net so opvallend as in die Winterslaap-reeks.

Met die eerste oogopslag roep Serfontein se tekeninge raakvlakke op met die werk van die Victoriaanse fotograaf en uitvinder Eadweard Muybridge wat ʼn baanbreker was ten opsigte van studies in beweging en veral in vroeë rolprentprojeksies (met die klem op prente wat rol/beweeg). In die laat 1870’s het hy 24 statiese kameras langs ʼn perderenbaan opgestel. ʼn Perd wat aan’t hardloop was na die wenpaal het sover hy beweeg telkens ʼn kamerasluiter geaktiveer en die resultaat was 24 stilfoto’s van die perd op spoed. Momentum, het Muybridge gekonkludeer, was die somtotaal van dié reeks stilraampies.

Beskou jy raampie vir raampie kan jy, soos in “pause”, die posisie van die voorwerp (in dié geval die perd) duidelik bepaal. Kom momentum ter sprake, kom wasigheid in die prentjie. En onsekerheid.

As Serfontein sy versameling tekeninge Momentum noem, lyk dit asof dit dié onsekerheid is wat hy in die oog het. Die somtotaal van die tekeninge bly stu, maar stuur af op dubbelbeelde, beelde uit fokus en in sommige gevalle selfs abstraksies.

In dié geval word Marcel Duchamp se Nude Descending a Staircase, no. 2 (1912) deel van die gesprek, veral met betrekking tot die meganistiese beweging van die figuur met veelvuldige perspektiewe. Wat Serfontein vasvang op bladsye, tussen bladsye en eweneens oor bladsye heen laat spoel.

En as jy Duchamp betrek, waarom dan nie ook Gerhard Richter se Ema (Akt auf einer Treppe) (1992) nie. Teenoor die masjienagtigheid wat Duchamp vergestalt is Richter se skildery soveel meer sensueel, juis in die wasigheid daarvan. Vergelyk Serfontein se Woman Walking Slowly Downstairs and Waving wat op ʼn manier verwys na Muybridge, Duchamp sowel as Richter. Maar dan gaan Serfontein verder deur die dié raampies/gestolde rolprent verder te verdoesel deur die boek waarin dit afgedruk is te animeer, en self in ʼn stolling voor te stel.

Waarvan die kyker bewus word, is stuwende momentum, as stillewe, en dalk nature morte, soos die Franse daarna verwys.

In dié opsig sluit Serfontein se tekeninge aan by sy skilderye van die afgelope 20 jaar waar hy plekke verbeeld wat nie aan die land se hoofroetes lê nie, plekke op die kantlyn wat vooruitgang sien verbygaan het. In kleinerige, realistiese olieverfskilderye vergestalt hy ʼn tyd en ruimte wat radikaal anders is, ʼn ruimte waarin emosies soos herkenning gemeng met vervreemding, onsekerheid en weerloosheid hoogty vier.

Moontlik is dit dieselfde soort vervreemding, ondersekerheid en weerloosheid wat so heerlik in Momentum aan die orde kom.

Johan Myburg

 

Henk Serfontein’s Momentum opens Saterday 3 June at 15:00 at the Dawid Ras Gallery at 18 Silvela Road, Sandown Estate, Sandton. Visit www.dawidras.com.