Doyenne van SA kunswêreld sterf

Esmé Berman (1929-2017)

Esmé Berman, bekende kunshistorikus en skrywer, is Sondag (4 Junie) in haar huis in Johannesburg dood. Sy was 88.

Toe Berman se Art and Artists of South Africa in 1970 verskyn het (bygewerk in 1983), was dié publikasie nie net die vestiging van haar naam as die doyenne van die Suid-Afrikaanse kunswêreld nie, maar het sy daarin geslaag om die uiteenlopende kunspraktyke van Suid-Afrikaanse kunstenaars in een band saam te vat.

Voor die revolusie wat die inligtingstegnologie teweeggebring het, het Berman haar inligting omtrent kunstenaars verkry deur onderhoude, deur duisende kilometer agter kunstenaars aan te ry en persoonlike gesprekke met hulle te voer. Soos wat Giorgio Vasari (1511-1574) indertyd gedoen het in sy boek wat vertaal is as Lives of the Most Excellent Painters, Sculptors, and Architects, het Berman haar eerstehandse ervaring van die werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars in dié boek onder woorde gebring.

Verlede jaar op 30 Maart het die Universiteit van die Witwatersrand erkenning gegee aan Berman se bydrae tot Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis, kunswaardering en kunskritiek en ʼn eredoktorsgraad aan haar toegeken.

Berman het haar voorgraadse studie in 1946 aan die einste universiteit begin met ʼn graad in visuele kunste en ʼn honneurs in sielkunde. Daarna het sy spraakleer en drama studeer aan die Trinity College in Londen.

In die 1960’s het sy as kunskritikus begin werk vir die destydse Newscheck, ʼn plaaslike tydskrif geskoei op die Amerikaanse Time (met Robert Hodgins as die assistent-redakteur), en het sy ook kunsresensies vir die radio begin doen.

Maar dit was haar betrokkenheid by die Hillbrow Study Centre, aandklasse wat gereël is met lesings oor kultuur, argitektuur, letterkunde en kuns, wat eindelik gelei het tot die uitgee van Art and Artists of South Africa.

Berman het die lesings oor Suid-Afrikaanse kuns aangebied en toe daar aanvraag kom vir lesingnotas, het sy haar radiotekste byeengebring en dít vir die uitgewer AA Balkema aangebied met die oog op moontlike publikasie. Balkema het haar gepor om in plaas van ʼn handboek ʼn volwaardige nagevorsde boek te skryf oor Suid-Afrikaanse kuns.

En dis waar die reise en goeie verhoudings met kunstenaars begin het, van vriendskap met Alexis Preller tot besoeke aan afgesonderde Fred Page in Port Elizabeth.

Berman se vriendskap met Preller het in 1972 begin toe sy ʼn essay vir die katalogus vir sy oorsiguitstalling in die Pretoriase Kunsmuseum moes skryf. Die boek oor Preller wat sy al die jare in die agterkop gehad het, het eers in 2009 werklikheid geword toe sy saam met Karel Nel, professor in visuele kunste aan Wits, die dubbelband Alexis Preller: Africa, the Sun and Shadows en Collected Images uitgegee het. Saam met Edgar Bold het Berman in 1973 begin met die verfilming van ʼn dokumentêre program oor Preller. Ná ʼn onderbreking as gevolg van Preller se siekte is dit in 1974 voltooi. Die SAUK het opdrag gegee vir ʼn langer weergawe van dié dokumentêr wat in 1977, twee jaar na sy dood, uitgesaai is.

In 1972 het sy die Art Institute begin met onderrig, dokumentasie en publikasie as oogmerk. Die publikasie van The South African Art Market, bedoel as ʼn handboek vir versamelaars, het soveel kritiek uitgelok dat Berman die boek onttrek het. Die rede was dat die boek die versamelbaarheid van kunstenaars se werk in rand en sent aangedui het, iets wat destyds met opperste teenstand begroet is.

In 1987 het Berman en haar man na Los Angeles verhuis om hulle daar te vestig, maar in 2003 na Johannesburg teruggekeer.

 

Johan Myburg